SKOOLINLIGTING
AFFIERAAD

Leierskap

Affies bied seuns op vele terreine geleenthede om hul leierskapvaardighede te ontwikkel. Deel van die skool se missie is om deur middel van opvoedende onderwys seuns so te help ontwikkel dat hulle uiteindelik volwaardige landsburgers word wat ‘n sinvolle bydrae tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap lewer.

Alhoewel Affies se leierskapsontwikkeling veel wyer as die Affieraad strek, is die Affieraad die skool se verteenwoordigende leerderraad. Hierdie leierskorps word jaarliks demokraties deur die seuns verkies.

Na ‘n intensiewe opleidingskamp kry die Affieraad die geleentheid om die skoolgemeenskap te dien. Die Affieraad verrig verskeie dienstake, help met bekendstellingsgeleenthede en stel deurlopend ‘n navolgenswaardige voorbeeld.

Die Affieraad word jaarliks in September vir ‘n dienstydperk van 11 maande verkies.  Daar word agtien seuns uit die graad 11-groep gekies, wat dan die senior leiers van die skool in hul matriekjaar is, en nege leerders uit elk van die ander grade. Die hoofseun en onderhoofseuns word deur die Affieraad gekies.

Die vier onderhoofseuns beklee elkeen ‘n portefeulje: Sport, Kultuur, Maatskaplik en Sosiaal, Dissipline en Akademie.

 Boodskap van die 2017 hoofseun:

Ek staan in Lynnwoodweg voor die skool en kyk na die imposante hoofgebou van die tradisieryke skool in die skadu van Loftus.

Affies… ‘n grande heer, voorwaar!

Op hierdie stoepe lê diep spore, tussen hierdie mure het legendes beweeg en wanneer jy hier stap, fluister stemme uit die verre verlede vir jou om dít wat jy hiér beleef, te bewaar, te koester, te bou en uit te dra…

Affies is ‘n leefwyse, ‘n broederskap en ‘n verbintenis met die rooi, geel en groen. Dit is ‘n verwantskap wat oor landsgrense heen strek. Daar kan met trots teruggekyk word op ‘n roemryke verlede en uitgesien word na ‘n uitdagende toekoms.

‘n Toekoms waarin elke Affie sekuriteit en geborgenheid binne die mure van hierdie rooibaksteengebou beleef. Ons word uitgedaag op akademiese sowel as sportgebied en sien voortdurend uit na ‘n kultuurlewe wat jou vlerke gee!

Hier groei en ontluik graad 8-seuntjies in jong manne; manne met karakter, manne met integriteit, manne met waardes soos respek en lojaliteit. En ja, manne wat wéét waar ons krag lê. Daarom kan ons in die woorde van ons skoollied jubel:

Ons grootse verlede

die hede se krag

gee moed en vertroue

vir dit wat daar wag.

Ons bring jou ons hulde,

jou lig sal ons dra

tot ver oor ons wye Suid-Afrika.

 

LAAT DAAR LIG WEES!

 

 JOHAN VAN ZYL

HOOFSEUN 2017

 

 

Laai die Affieraad-organogram hier af:

  • Affieraad 2016-17

    Affieraad-2016-2017.ppt (2mb)
TERUG NA BO