Affies blink uit by ATKV

21 Aug 2018

Die Afrikaanse Hoër Seunskool het vanjaar met die titel as die nasionale junior wenners én naaswenners in die ATKV se debatskompetisie weggestap. Die kompetisie is op Saterdag 18 Augustus op Buffelspoort gehou. Dit beteken dat Affies vanjaar die tiende opeenvolgende jaar met minstens twee nasionale debattitels in hierdie kompetisie kan spog, wat andermaal bevestig dat Affiedebat die leidende lig in hierdie baie strawwe kompetisie bly.

Daar is twee afdelings, naamlik ‘n senior en ‘n junior kompetisie, met sowat 600 spanne wat jaarliks deelneem. In die senior kompetisie het Affies se graad 10-span bestaande uit Henri van der Westhuizen en Reuben Coetzer hul veldtog in die top vyf nasionale plekke afgesluit.

In die junior afdeling (grade 8 en 9) is die span van Wilhelm Warmenhoven, Jan Wiese en Rudolph-Johan Cilliers as die land se kampioenspan aangewys, met Rudolph wat ook die beste taalgebruiker in die kompetisie was. Jan is as die beste debatteerder aangewys. Die land se naasbeste junior span het bestaan uit Christiaan Snyman, John Hartslief en Kyle van Niekerk, wat net-net die knie moes buig voor hul skoolmaats.

Die kompetisie bestaan reeds sedert die jare sewentig, terwyl Affies se Debat- en Kultuurvereniging reeds op 21 Julie 1920 gestig is. Dit is daarom nie verrassend nie dat die skool ‘n noue verbintenis met debat het, wat dan ook die afgelope klompie jare daartoe gelei het dat die skool vanjaar die tiende keer as nasionale kampioene aangewys is – met die naasbeste skool op drie nasionale titels. Vanjaar was ook die vyftiende opeenvolgende jaar wat die skool ‘n span na die nasionale finaal kon laat deurdring.

Ook die Affie-redenaars het hul stemme dik gemaak. In die senior voorbereide redenaarskompetisie vir Afrikaans Huistaal het Hanno Prinsloo met die louere weggestap en LT de Jager was tweede. Katleho Molakeng was die beste taalgebruiker in die junior voorbereide afdeling vir Afrikaans Addisionele Taal.

 

Op die foto verskyn die volgende:
Voor: Henri van der Westhuizen, Ruben Coetzer, Katleho Molakeng, Hanno Prinsloo en LT de Jager
Agter: Johan Hartslief, Christiaan Snyman, Kyle van Niekerk, Wilhelm Warmenhoven, Rudolph-Johan Cilliers en Jan Wiese

TERUG NA BO