Christiaan wen Meesters

16 Okt 2018

Affie-matrikulant Christiaan Worst het verlede week weer eens puik presteer op die tennisbaan.

Hy het as wenner uit die stryd getree by Tennis Suid-Afrika se Junior Masterstoernooi.

Hierdie toernooi word beskou as die vlagskip van junior tennis in Suid-Afrika en slegs die top spelers in die land word genooi.

Om die kersie op die spreekwoordelike koek te plaas, is Christiaan deur TSA genomineer as “Spelers se speler van die jaar”. Slegs 6 spelers uit ongeveer 800 van alle ouderdomme is genomineer. Hy was hier tweede na sy groot vriend van Grey Kollege, Philip Henning.

Hy het ook die “Fair Play Award” ontvang wat aan net een speler landwyd toegeken word. Hierdie trofee word deur TSA gegee aan die speler wat deurgaans sportmanskap getoon het.

Christiaan het ‘n groot beurs by ‘n top universiteit in Amerika losgeslaan en sit sy loopbaan aanstaande jaar daar voort.

Affies is besonder trots op hierdie ambassadeur van ons skool!

TERUG NA BO