Geskiedenis
Volgens artikel 5 van die Vredesooreenkoms van Vereeniging (1902) is daar aan die Boere beloof dat die regte van Nederlands gehandhaaf sou word, maar tydens die Milner-regering is alles moontlik gedoen om die Afrikaners so gou as moontlik te verengels. Onder leiding van die Kerk is sekere Christelik Nasionale Onderwysskole opgerig om die posisie te verbeter, maar eers met die toesegging van verantwoordelike bestuur kom daar 'n mate van verligting. Die beginsel van moedertaalonderwys (Nederlands) in Transvaal en die Oranje-Vrystaat word deur middel van die Smutswet van 1907 en die Hertzogwet van 1908 aan laerskole ingevoer.Met die toestemming van die Unie (1910) is gelyke regte aan Nederlands en Engels as amptelike tale gewaarborg. Afrikaans het egter so gegroei dat C.J. Langenhoven in 1914 'n mosie by die Kaapse Provinsiale Raad ingedien het waarin hy versoek het dat Afrikaans Nederlands geleidelik as onderrigtaal moes vervang. Hierdie gedagte is ook sterk ondersteun deur die destydse parlementslid vir Elofsdal, mnr. Jan Joubert, en die plaaslike leraar, ds. Chris Neethling. As gemeenskapsleiers het hul spoedig 'n groep eendersdenkende Afrikaners betrek in die stigting van 'n Afrikaanse hoërskool in Pretoria.
Die vrug op hul ywer en entoesiasme het nie uitgebly nie en op 28 November 1920, vyf jaar voor die amptelike erkenning van Afrikaans het 44 leerlinge en 3 onderwysers in die woning van genl. Piet Joubert, Visagiestraat 218, vergader. Dit was die deurbraak waarop so baie Afrikaners gewag het - die eerste stigting van 'n suiwer Afrikaansmedium hoërskool in die land.
Die vinnige groei wat Afrikaans in die twintigerjare beleef, word in die vroeë skoolannale weerspieel. Na sewe jaar kon die skool van die Joubert-woning na 'n nuwe gebou (tans die Afrikaanse Hoër Meisieskool) verskuif. Die leerlinggetalle het egter steeds so vinnig toegeneem dat die skool aan die einde van 1927 die groter gebou van die Hogere Oosteindskool (tans Afrikaanse Hoër Seunskool) moes betrek. Die Hoogere Oosteind wat in 1917 gestig is, was een van die eerste Nederlandsmedium hoërskole. Na sy ontbinding was dit die setel van die Afrikaanse hoërskool en neem Afrikaans hierdeur ook op tasbare wyse finaal die plek van Nederlands in.
Teen 1929 het hierdie gebou ook nie meer genoeg ruimte gebied nie en is daar besluit om die seuns en meisies te skei. Die eerste afsonderlike skole vir seuns en meisies, wat Afrikaans as medium sou gebruik, kom tot stand. Mnr. F.J. (Pa) le Roux, wat die eerste hoof van die gesamentlike skool was, het die Afrikaanse Hoër Seunskool tot in 1946 met sy aftrede gelei en mej. E.M. Verster beklee die hoofpos van die Afrikaanse Hoër Meisieskool tot in 1944.
Daar kan met reg beweer word dat die geskiedenis van die twee Afrikaanse Hoërskole nou verweef is met 'n belangrike groeitydperk van die Afrikaner en sy taal. Besiel met dieselfde pioniersgees as hul voorgangers het 'n stroom jong Afrikaners uit hierdie skool gevloei om leiersposisies in alle vlakke van die Suid-Afrikaanse gemeenskap en die Afrikaner volkslewe vol te staan.
Vandag word daar met trots teruggekyk op 'n roemryke verlede wat elke dag as fondament vir die bouwerk van more dien.
"LAAT DAAR LIG WEES"
