Koor
"Sing om mense se harte aan te raak."
Kom deel in die ryk Affie-koor geskiedenis!
Die koor van die Afrikaanse Hoër Seunskool, beter bekend as die Affie-koor, bestaan uit ongeveer 95 seuns tussen 13 en 18 jaar.
Vandat die permanente koor 17 jaar gelede gestig is, het hy homself as een van die beste hoërskoolkore in die land bewys. Die koor het al talle toekennings plaaslik sowel as op internasionale vlak ontvang en dring in 2009 vir die 13de keer na die finale ronde van die ATKV Applous Nasionale Kompetisie deur.
Die koor het al verskeie binnelandse en buitelandse toere onderneem, en het lande insluitend Duitsland, Nederland, Frankryk, Hongarye, België, Engeland, Oostenryk en die Tseggiese Republiek op toere in 1996, 2000, 2004 en 2008 besoek.
Die koor was ook uitgenooi om deel te wees van die 85ste verjaarsdagvieringe van oud-president Nelson Mandela en tree in 2009 en 2010 op uitnodiging by die Drakensbergse Seunskoor se feesnaweek ("Music in the Mountains") op.
Prestasies:
ATKV Applous
Cum Laude-toekenning (90-100%): 1996 - 2009
Algehele wenner saam met AHMP in 2002
Musica Mundi Wêreldkoorspele
2004 - Bremen, Duitsland: Goue medalje en wenner van Jong Mannekoorafdeling?
2008 - Graz, Oostenryk: 2 Goue medaljes in Jong Mannekoor-afdeling en Populêre Koormusiek-afdeling
Pretoria Beeld Eisteddfod
A++ (in kort sowel as lang program): 2002 - 2009
Algehele Wenner: 2002 -2009
Noord-Gauteng Internasionale Kinder- en Jeugkoorkompetisies
Cum Laude, Wenner: Jeugkoor Manne
Gauteng-Noord Kooreisteddfod
Cum Laude: 1996 - 2001
Koorleier: Michael Joseph Barret
Michael Barrett neem in 2011 die leisels as koorleier by Hannelize du Plessis, wat sedert 1996 by die Affie-koor betrokke was, oor.
Michael was lid van die Drakensbergse Seunskoor van 1992 tot 1997. Hy verwerf sy BMus Graad (Uitvoerend - Opera) in 2005 (Cum Laude) aan die Universiteit van Pretoria en in 2008 sy MMus (Uitvoerend) by Universiteit van Pretoria waar hy gespesialiseer het in koorleiding.
Michael was lid van die Universiteit van Pretoria Camarata vir die grootste deel van sy studente-loopbaan, en word in 2004 aangestel as assistant-dirigent.
Hy het al talle meesterklasse bygewoon wat deur wêreldbekende koorleiers en sangers (nasionaal sowel as internasionaal) aangebied is. Hy woon ook op ‘n gereelde basis werkswinkels vir koorleiers sowel as sangers by en is op verskeie geleenthede al gevra om nasionale en internasionale werkswinkels oor Suid-Afrikaanse musiek aan te bied. Hy tree op as beoordelaar vir koorkompetisies op streeks- en nasionale vlak en het al talle werke gekomponeer wat deur Jeugkore en Hoërskoolkore dwarsoor die land uitgevoer is.
Michael is tans koorleier van die Jakaranda Kinderkoor en het ook die posisie van koorleier by ons susterskool aanvaar. Hy sing ook tans in die Akustika Kamerkoor onder leiding van Christo Burger.
