SKOOLINLIGTING
GEDRAGSKODE

Die toepassing en implementering van die bepalings van die gedragskode geskied in oorleg en in terme van die bepalings van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika Wet nr. 108 van 1996 (“die Grondwet”), die Suid- Afrikaanse Skolewet Wet nr. 84 van 1996 en alle regulasies en riglyne wat die Minister of Departement van Onderwys van tyd tot tyd mag implementeer en verder onderhewig aan enige wysigings van die Wet wat van tyd tot tyd gepromulgeer mag word.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool, wat in God en tydlose waardes soos liefde, waarheid en hoop geanker is, streef daarna om sy unieke tradisie van uitnemende opvoedende onderwys te handhaaf en uit te bou tot voordeel van ons land en sy inwoners. Ons onderskryf die beginsels vervat in die Grondwet en beskou die regte uiteengesit in Hoofstuk 2 van die Grondwet as die basis van hierdie gedragskode.

Ons as onderwysers en leerders van die Afrikaanse Hoër Seunskool is lief vir en lojaal aan ons vaderland. Vir ons as onderwysers van die Afrikaanse Hoër Seunskool is elkeen van sy leerders kosbaar. Hulle welsyn en geluk is vir die skool ’n hoë prioriteit. Ons roeping as onderwysers is om, aanvullend tot hul ouers of voogde, ons leerder na volwaardige volwassenheid te begelei. Ons ag onsself dus as vennote van ons leerders se ouers en voogde en streef saam met hulle ’n hegte eenheid met ons leerders na.

1.Kernwaardes:

As onderwysers en leerders van die Afrikaanse Hoër Seunskool streef ons die volgende kernwaardes daadwerklik na:

1.1 Liefde

  • Ons as leerders aanvaar dat die liefde die kragtigste van alle waardes is. Sonder liefde is die ander waardes nutteloos.
  • Ons as leerders strewe daarna om liefde teenoor ons onderwysers, mede-leerders en medemens uit te straal. So gee ons daadwerklik inhoud aan ons leuse: “Laat daar lig wees.”

1.2   Respek

  • Ons as leerders aanvaar gesag, respekteer ons onderwysers en leiers en ondersteun hulle volledig.
  • Ons respekteer ons mede-Affies, mede-landgenote en gedra ons hoflik teenoor alle mense, veral teenoor dames en ons meerderes.
  • Ons as leerders respekteer ander leerders se reg tot privaatheid.
  • Ons eer ons moedertaal en gebruik dit met trots en waardigheid, maar respekteer terselfdertyd ook alle ander tale van ons land.

1.3  Integriteit

  • ‘n Affie se woord is sy eer, daarom praat ‘n Affie in alle omstandighede die waarheid en streef eerlikheid daadwerklik na.
  • Ons as leerders streef daarna om jong manne van karakter, binne en buite skoolverband, te wees.

1.4  Nederigheid

‘n Affie is trots op wie hy is en op sy skool, maar bly in alle omstandighede, in oorwinning en nederlaag, altyd nederig.

1.5 Gehoorsaamheid

Affies is gehoorsaam en eer ons ouers en onderwysers.

1.6 Verantwoordelikheid

  • ‘n Affie neem verantwoordelikheid vir sy gedrag en optrede deur die nagevolge van sy dade te dra en daaruit te leer.
  • ‘n Affie streef ‘n gedissiplineerde lewensstyl op alle terreine voor, daarom streef ‘n Affie na deurlopende netheid, flinkheid en hoflikheid.

 

1.7  Lojaliteit

  • ‘n Affie is lojaal aan sy land, sy mede-burgers, sy mede-Affies, personeel en breë Affie-gemeenskap.
  • Ons besef dat dit ‘n besondere voorreg is om deel te wees van hierdie skool. Daarom is ons lojaal aan die skool en bou ons voort aan sy goeie naam en roemryke tradisie in word en daad.

1.8  Gelykheid

  • Vir ons as onderwysers en leerders is elke leerder kosbaar. Ons respekteer elkeen se reg op gelyke behandeling. Ons behandel alle mense ongeag hul geslag, ras, geloof of enige ander oortuiging wat hul mag hê gelykwaardig.

1.9  Diensbaarheid

  • Ons streef daarna om hulpvaardig te wees en te dien.

 

1.10  Dankbaarheid

  • Ons as leerders het nie onsself, ons gesinne, ons kultuur, ons taal of ons land self geskep nie, maar dit as ‘n geskenk uit ‘n hoër krag as onsself, naamlik die oorsprong van alle oorspronge, ontvang.
  • Ons as leerders word deur ‘n oorweldigende dankbaarheid jeens hierdie feit gekenmerk.
  • Dit is ‘n dankbaarheid wat ons teenoor die skool, die onderwysers en teenoor mekaar uitstraal.

By die Afrikaanse Hoër Seunskool wil ons ‘n kultuur van self-regulering bevorder. Ons besef verder dat ons missie tot die handhawing van hierdie kernwaardes slegs kan plaasvind binne die riglyne van ‘n behoorlike gedragskode.  Dit is dus belangrik dat leerders hulself toesien tot die bevordering van die skool se gedragskode en nie enige oortreding wat neerkom op die skending van enige van die kernwaardes sal duld nie en aktief sal toesien dat sodanige oortredings aangespreek word.

Terselfdertyd moet goeie gedrag erken en beloon word.

2.Definisies:

2.1. Onderworpe aan sub-paragraaf (2) en behalwe vir sover konteks anders aandui, het ‘n woord wat omskryf is in afdeling 1 van die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 (Artikel 84 van 1996) dieselfde bete-kenis in hierdie gedragskode.

2.2. In hierdie gedragskode, behalwe as die konteks anders aandui, word die volgende betekenisse aan woorde geheg:

  • ‘kode’ beteken die gedragskode van die skool;
  • ‘dae’ beteken dae van die week, uitsluitend Saterdae, Sondae, publieke vakansiedae en skoolvakansies;
  • ‘dissiplinêre komitee’ beteken ‘n dissiplinêre komitee wat saamgestel word i.t.v die bepalings in paragraaf 5;
  • ‘wangedrag’ beteken wangedrag deur ‘n leerder en sluit die volgende in:
    • a) wangedrag op die skoolterrein, hetsy gedurende of na skoolure;
    • b) wangedrag gedurende enige skoolaktiwiteit, ongeag of dit op of buite die skoolterrein plaasvind, en gedurende of buite skoolure; en
    • c) enige gedrag, met die dra van skooluniform of nie, en binne of buite die skoolterrein wat:
      • i) die skool in ‘n slegte lig stel;
      • ii) inmeng met die beheer, gesag of behoorlike administrasie van die skool;
      • iii) verhoed dat enige skoolaktiwiteit kan plaasvind;
      • iv) onderworpe aan die redelike uitoefening van die reg om te vergader, enige aksie soos voorsien in die Grondwet, 1996 en die gedragskode;
      • v) enige gedrag wat individue verhoed om hul regte, magte en pligte as ‘n lid van die skoolgemeenskap uit te oefen;
      • vi) enige vergelding teen regmatige aksies waarna verwys word, wat verbode is volgens die skool se gedragskode.
  • ‘aanklaer’ beteken die hoof van die skool of ‘n onderwyser deur die hoof aangestel of enige ander person deur die skool gekies om ’n saak teen ‘n leerder voor te lê;
  • ‘verteenwoordiger’ beteken ‘n ouer van ‘n leerder, ‘n mede-skolier of enige ander persoon wat deur ‘n leerder gekies word om hom by ‘n dissiplinêre verhoor te verteenwoordig;
  • ‘skooldae’ beteken dae van die week, met die uitsondering van Saterdae, Sondae, publieke vakansiedae en skoolvakansies;
  • ‘ernstige wangedrag’ beteken wangedrag soos vermeld in Skedules 1 & 2;
  • ‘skorsing’ beteken:
    • a) ‘n Leerder mag nie toegelaat word om klasse by te woon nie;
    • b) ‘n Leerder mag nie toegelaat word om ‘n ampsposisie te beklee of om enige pligte en funksies relevant tot so ‘n ampsposisie na te kom vir die periode van opskorting nie;
    • c) ‘n Leerder mag nie aan buitekurrikulêre aktiwiteite van die skool deelneem nie;
    • d) ‘n Leerder mag nie skool bywoon vir ‘n tydperk wat nie langer as ‘n week mag wees nie;
  • en ‘opskort’ het dieselfde betekenis;
  • ‘voorlopige opskorting’ beteken ‘n leerder mag voorlopig deur die hoof geskors word vir die maksimum periode toegelaat deur die Wet. Hierdie besluit kan geneem word as die hoof, in konsultasie met die departementshoof besluit dat dit in die belang van die leerder of die opvoeders en die skoolgemeenskap is. Hierdie besluit is onderhewig aan die feit dat die leerder moet kan aangaan met sy skoolwerk onder goeie toesig; en
  • ‘die wet’ beteken die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 (Wet 84 van 1996)

3. Implementering van ‘n gedragskode:

  1. 3.1.Ter verwesenliking van die skool se missiestelling wat hierbo uiteengesit is en verder ter versekering en handhawing van goeie orde en dissipline in die skool, word die onderstaande gedragskode, reëls en prosedures geïmplementeer by die Afrikaanse Hoër Seunskool.
    1. 3.1.1. Algemene skoolreëls:
    2. 3.1.2. Hierdie reëls word geïmplementeer om daaglikse skoolbywoningsbedrywighede en goeie orde te reguleer.
      1. 3.1.2.1. Skoolbywoning en die daaglikse skoolbedrywighede:
        1. 3.1.2.1.1. Skoolbywoning is vir ‘n Affie belangrik dus woon elke leerder die skool getrou by.
        2. 3.1.2.1.2. Daarom mag geen leerder sonder behoorlike en grondige redes of toestemming van die skooldag of van enige klas afwesig wees nie. Indien ‘n leerder weens siekte of ‘n ander rede afwesig is, stel die ouers of voogde die skool telefonies en die registeronderwyser per brief of e-pos in kennis.
        3. 3.1.2.1.3. Leerders tree elke dag stiptelik om 07:25 op die vierkant aan. Geen leerder mag laat opdaag vir die aanvang van die skooldag nie. In die enkele gevalle waar leerders onvermydelik laat is, rapporteer hulle eers in die mediasentrum (me H Koch). Tydens toetsdae (Dinsdae en Donderdae) beweeg hulle direk na hulle registerklasse.
        4. 3.1.2.1.4. Klaswisseling geskied vinnig en ordelik en leerders moet stiptelik en betyds opdaag vir die aanvang van ‘n opvolgende klasperiode.
        5. 3.1.2.1.5. Leerders tree ten alle tye so op dat die goeie leerkultuur in die skool bevorder word.
        6. 3.1.2.1.6. ‘n Affie het respek vir die goeie orde in die skool, daarom word stilte gehandhaaf tydens die daaglikse godsdiensopening, afsluiting en wanneer daar afkondigings gemaak word.
        7. 3.1.2.1.7. In die saal en tydens saalopeninge word respek aan die spreker en die plegtigheid van die geleentheid betoon. Die nodige stilte om saalbyeenkomste stigtelik te laat plaasvind, word deurentyd gehandhaaf. Geen versteuring van die algemene orde, ongedissiplineerde optrede of belangeloosheid tydens saalbyeenkomste sal gevolglik toegelaat word nie.
        8. 3.1.2.1.8. Tydens pouses beweeg leerders uit die gebou uit om op die terrein te ontspan.
        9. 3.1.2.1.9. Tydens pouses en in die middae word alle leerders gekonsidereer en die geleentheid gegun om op ons terrein te ontspan.
        10. 3.1.2.1.10. ’n Affie is bewus van die netjiese en goed versorgde voorkoms van ons terrein en hulle beywer hulle om dit so te hou. Geen leerder
          mag hom gevolglik skuldig maak aan die bemorsing van die terrein en skoolgeboue of beskadiging van enige eiendom van die skool
          nie.
        11. 3.1.2.1.11. ‘n Affie dra ook buite die klaskamer die goeie naam van die skool uit. Goeie maniere en gesonde selfdissipline is kenmerkende
          eienskappe van Affies.
        12. 3.1.2.1.12. Op die sportveld openbaar ‘n Affie te alle tye ware sportmangees deur respek te toon aan spanmaats, opponente, skeidsregters en
          beamptes.
        13. 3.1.2.1.13. Geen leerder mag hom gevolglik skuldig maak aan swak of onsportiewe gedrag wat onder andere insluit:-
          1. 3.1.2.1.13.1. Die bevraagtekening van skeidsregters se beslissings of uitjouery van opponente,
          2. 3.1.2.1.13.2. Die sing van onwelvoeglike liedjies op paviljoene tydens byeenkomste,
          3. 3.1.2.1.13.3. Natgooiery of viktimisasie van ander persone op die paviljoene.
        14. 3.1.2.1.14. Tydens uitstappies en wanneer openbare vervoer gebruik word, bou elke Affie aan die skool se goeie naam deur onberispelike gedrag en optrede.
        15. 3.1.2.1.15. ‘n Affie ondersteun sy medeskoliere lojaal wanneer hulle op buitemuurse gebied aan kultuur- en sportaktiwiteite deelneem.
        16. 3.1.2.1.16. Geen leerder mag tydens die skooldag of deelname aan skoolaktiwiteite deelneem aan enige massa-aksies of betrokke wees by die opsweep van ander leerders om deel te neem aan sodanige massa-aksies nie.
        17. 3.1.2.1.17. Geen leerder mag tydens die skooldag of deelname aan skoolaktiwiteite betrokke wees by enige ander aktiwiteite wat nie deel vorm van die skool se bedrywighede nie.
        18. 3.1.2.1.18. Geen leerder mag tydens die formele skooldag die skoolterrein sonder toestemming verlaat of enige area wat as verbode terrein aangedui is, binnegaan nie.
        19. 3.1.1.1.19 Geen leerder wat met ‘n motor skool toe kom, mag op die terrein parkeer nie.
      1. 3.1.1.2 Voorkoms:
        • 3.1.1.2.1 Dit is ‘n voorreg om ons skooldrag te dra en ‘n netjiese voorkoms is ‘n tradisie van ons skool. Een-vormigheid en netheid dra ‘n positiewe beeld uit en kweek trots by alle Affies en Affie-ondersteuners.
        • 3.1.1.1.2 Daarom word van Affie-leerders verwag om die onderstaande kleredrag en voorkomsreëls nougeset na te kom.
        • 3.1.1.1.3 Somerdrag: wit hemp, grys broek, skooldas, grys kouse en swart skoene.
        • 3.1.1.1.4 Winterdrag: wit hemp, grys broek, skooldas, kleurbaadjie, grys kouse en swart skoene. Skooltrui, wit of grys is opsioneel, maar die grys trui mag nie sonder die kleurbaadjie gedra word nie.
        • 3.1.1.1.5 Uitgaandrag: wit hemp, grys broek, skooldas, kleurbaadjie, Affie-pet, grys kouse en swart skoene.
        • 3.1.1.1.6 Skoene: swart toerygskoene met ‘n leerafwerking. (Nié stewels, gepunte skoene of skoene met uitermate dik sole, ‘n patroon of gespe nie).
        • 3.1.1.1.7 Gordel: skoolgordel (skoolkleure); grys materiaal of ‘n swart leergordel sonder ‘n opvallende gespe.
        • 3.1.1.1.8 Tasse: netjiese, standaardgrootte tasse met afskortings word gebruik. Skouersakke of graffiti op die tasse is ontoelaatbaar.
        • 3.1.1.1.9 Akademiese-, Kultuur- en Sportmerietedasse mag slegs Vrydae of tydens enige spesifieke geleentheid wat in diskresie van die skoolhoof bepaal word deur leerders gedra word.
        • 3.1.1.1.10 Sportdrag: Affies se trotse sporttradisie word ook in die voorkoms van sy sportspanne weerspieël. Daarom word die voorgeskrewe sportdrag van elke sportsoort eerbiedig. ‘n Skedule van gemagtigde sportdrag verskyn in die beplanningsgids en word as deel van hierdie gedragskode beskou. Leerders mag verder slegs amptelik goedgekeurde Affie-sweetpakke en sportsakke dra en gebruik.
        • 3.1.1.1.11 Haarstyl en algemene voorkoms: ‘n Affie se hare is skoon, netjies en goed versorg. Indien ‘n seun verkies om sy hare kort te dra, is ‘n no. 4 knipper die norm. Die volgende is onaanvaarbaar: die hare in ‘n “step” of enige uitheemse haarstyl soos deur die skool bepaal gesny; kuiwe wat oor die wenkbroue hang; te lang hare bo, oor die ore of kraag; wangbaarde laer as die middeloor, ongeskeerde baarde en gekleurde of gejelde hare.
        • 3.1.1.1.12 Tatoeërmerke, die dra van oorbelle, ringe, armbande of soortgelyke items word deur die skool ontmoedig. Indien ‘n seun wel ‘n tatoeërmerk, gaatjies in sy lyf vir oorbelle, ringe of enige iets dergliks het, mag dit onder geen omstandighede sigbaar wees wanneer die seun sy skooldrag of enige vorm van Affiedrag dra nie. Indien ‘n seun versuim om sy tatoeërmerk te verbloem sal hy dienooreenkomstig volgens die skool se gedragskode gestraf word en/of deelname aan skoolaktiwiteite ontneem word.
      2. 3.1.1.2 Akademie:
        • 3.1.1.2.1 Akademie is ‘n topprioriteit by Affies. ‘n Affie werk met selfdissipline en dra by tot die handhawing en bevordering van ons skool se gesonde leerkultuur.
        • 3.1.1.2.2 Die verbreding van leerders se algemene akademiese agtergrond en die ontwikkeling van selfinsig is belangriker as die blote nastreef van goeie eksamenuitslae. ‘n Affie maak dus vryelik gebruik van geleenthede soos olimpiades, werkwinkels en hulpklasse om sy akademiese agtergrond te verbreed.
        • 3.1.1.2.3 Leerders sal te alle tye onderwysers met respek en agting behandel en geen voorbarige of ongema-nierde optrede teenoor onderwysers sal toegelaat word nie.
        • 3.1.1.2.4 Geen ontwrigtende of ongedissiplineerde optrede van enige leerder in ‘n klaskamer of in enige skool-verband sal toegelaat word nie.
        • 3.1.1.2.5 Pligsgetrouheid is ‘n belangrike prioriteit vir ‘n Affie. Daar word met selfdissipline gewerk en gestreef na insig en begrip van alle vakinhoude. Alle opdragte van onderwysers moet gevolglik nougeset uitgevoer word.
        • 3.1.1.2.6 Leerders het ‘n plig om huiswerk, klaswerk, toetse en enige akademiese take wat deur die onderwyser gegee is na die beste van hulle vermoë te doen.
        • 3.1.1.2.7 Geen pligsversuim of belangeloosheid wat sou insluit die inhandiging van onvoltooide of slordige werk of onderprestasie van leerders word toegelaat nie.
        • 3.1.1.2.8 Elke leerder het ‘n verantwoordelikheid om toe te sien dat hy behoorlik voorbereid is vir elke klas-periode wat onder andere inhou dat hy met sy tas/sak met alle boeke of toerusting of apparate wat vir daardie klas benodig mag word tydens die klas teenwoordig sal hê.
        • 3.1.1.2.9 Gedurende eksamentyd respekteer ‘n Affie sy medeleerders en sorg dat daar genoeg studiegeleent-heid is vir almal in die skool.
        • 3.1.1.2.10 Met behulp van die beplanningsgids sorg ‘n Affie dat sy ouers en voogde altyd goed ingelig is oor ouer- en inligtingsaande, sy toetsuitslae en algemene akademiese vordering.
      3. 3.1.2 Algemene gedrag:
        • 3.1.2.1 ‘n Affie gedra hom te alle tye in skoolverband so dat hy die kernwaardes waartoe hy homself verbind het te alle tye handhaaf en bevorder.
        • 3.1.2.2 Die gedragskode van die skool inkorporeer alle ander gedragskodes wat betrekking het op ‘n buitemuurse aktiwiteit, en is elke leerder wat deelneem aan ‘n buitemuurse aktiwiteit ook onderworpe aan daardie aanvullende kode.
        • 3.1.2.3 Gevolglik mag geen leerder hom in skoolverband, tydens skoolaktiwiteite of terwyl hy sy skooluniform dra, skuldig maak aan die volgende optrede nie:–
            • 3.1.2.3.1 Enige vorm van oneerlikheid, insluitend maar nie beperk tot diefstal, oneerlikheid tydens toetse en eksamens, of kopiëring of ongemagtigde gebruik van ander persone se skool- of huiswerk.
            • 3.1.2.3.2 In besit wees van sigarette of enige ander rookmiddels, alkoholiese drank of enige gewoonte- of afhanklikheidsvormende middels of gemelde gebruik of betrokke wees by die verspreiding daarvan.

          Wanneer daar ‘n oortreding van die gedragskode is wat geskied in die teenwoordigheid van mede-leerders rus daar ‘n verpligting op sodanige mede-leerders om die oortreding sonder meer aan te meld by die graadvoog. By versuim daarvan is hy skuldig aan ‘n oortreding.

          • 3.1.2.3.3 Enige onbetaamlike of onsedelike gedrag.
          • 3.1.2.3.4 Enige vorm van vandalisme.
          • 3.1.2.3.5 Enige kriminele oortreding (hetsy dit binne of buite skoolverband is).
          • 3.1.2.3.6 Viktimisasie of afknouery van enige persoon.
          • 3.1.2.3.7 Enige vorm van aanranding.
          • 3.1.2.3.8 Enige ongemanierde optrede teenoor volwassenes.
          • 3.1.2.3.9 Enige satanistiese of okkultiese bedrywighede.
          • 3.1.2.3.10 In besit wees van enige pornografiese of ander verbode materiaal, toerusting of apparate.
          • 3.1.2.3.11 Enige optrede wat die goeie naam van die skool of sy onderwysers of leerders in gedrang bring.
          • 3.1.2.3.12 Die gebruik van selfone, tablette, slim horlosies of enige elektroniese medium gedurende die skooldag behalwe waar toestemming vooraf van die graadvoog verkry is.
          • 3.1.2.3.13 Enige optrede wat indruis teen die goeie orde en dissipline van die skool.
          • 3.1.2.3.14 Weiering of versuim om hom onderhewig te maak aan die bepalings van hierdie gedragskode of die skool se dissiplinêre proses.

4. Toepassing van Tug:

Hierdie gedragskode is van toepassing op alle leerders wat ten tye van ‘n beweerde wangedrag onderworpe is aan die skool se dissiplinêre gedragskode.

‘n Leerder is onderworpe aan die dissiplinêre gedragskode van die skool as so ‘n leerder ‘n ingeskrewe lid van die betrokke skool is, ten tye van die beweerde wangedrag

  1. 4.1 Algemene bepalings:
    • 4.1.1 Enige leerder wat weier of versuim om die bepalings en reëls van die gedragskode met insluiting van die missiestelling na te kom, maak hom skuldig aan ‘n oortreding van die gedragskode en is gevolglik vatbaar vir dissiplinêre optrede en die oplegging van strafaksies in terme van die gedragskode.
    • 4.1.2 Die beheerliggaam het die diskresionêre bevoegdheid om in oorleg met en onderhewig aan die bepalings van die Skolewet Wet Nr 84 van 1996 en die riglyne neergelê deur die Departement van Onderwys en verder na konsultasie met die Affieraad die aard en die omvang van die strafaksies teen leerders te omskryf, bepaal of te wysig indien nodig.
    • 4.1.3 Sonder om enigsins afbreek te doen of beperking te plaas op die diskresionêre bevoegdheid van die beheerliggaam waarna verwys word in paragraaf 4.1.2 hierbo mag die volgende strafaksies leerders opgelê word by die oortreding van die gedragskode:–
      • 4.1.3.1 Waarskuwing
      • 4.1.3.2 Verbeuring van die reg om ‘n skooldas te dra vir ‘n bepaalde tyd
      • 4.1.3.3 Oplegging van dienstake in skoolverband
      • 4.1.3.4 Detensie
      • 4.1.3.5 Verbeuring van voorregte as Affie
      • 4.1.3.6 Ontheffing van skoolampte
      • 4.1.3.7 Tydelike skorsing van klasbywoning
      • 4.1.3.8 Skorsing van skoolaktiwiteite
      • 4.1.3.9 Uitsetting uit die skool in oorleg met die Departement van Onderwys.
      • 4.1.3.10 Enige ander straf wat in bepaalde gevalle in oorleg met die riglyne van die Departement van Onderwys as gepas beskou sou word.
      • 4.1.4 ‘n Leerder mag waar die toepaslike graadvoog, Adjunkhoof: Dissipline, dissiplinêre komitee of beheerliggaam van opinie is dat dit ‘n gepaste geval is verwys word vir berading.
      • 4.1.5 ‘n Leerder mag waar die toepaslike graadvoog, fasehoof, Adjunkhoof: Dissipline, dissiplinêre komitee of beheerliggaam van opinie is dat dit ‘n gepaste geval is, verwys word vir herstellende wegkering in plaas van die oplegging van strafaksies soos uiteengesit in 4.1.3 hierbo.
  2. 4.2 Herstellende geregtigheidspraktyke
    • 4.2.1 Ons as onderwysers en leerders streef daarna om die kernwaardes en –beginsels van herstellende geregtigheid as fondasie te ontwikkel vir ons benaderings tot probleemoplossing en konflikhantering, hetsy formeel as dissiplinêre optrede of informeel in die klas of op die skoolterrein.
    • 4.2.2 As alternatief tot huidige skooldissiplinêre optrede, sal die beheerliggaam en/of skoolbestuur, die diskresie hê om leerders wat hulself skuldig maak aan wangedrag en dus vatbaar is vir dissiplinêre optrede, te verwys vir wegkeringspraktyke in ooreenstemming met die beginsels van herstellende geregtigheid.
    • 4.2.3 Daar word beoog om herstellende geregtigheid toe te pas op die volgende maniere:
      • 4.2.3.1 Reaktiewe Sirkels in klasverband.
        Herstellende geregtigheidspraktyk wat ontwrigtende gedrag in die klaskamer, wat die leeromgewing negatief beïnvloed, adresseer en aanspreek.
      • 4.2.3.2 Herstellende Intervensies.
        Probleemoplossingsproses wat oortreders en slagoffers betrek. Wanneer die skade wat aangerig is deur oortreders ernstig genoeg is dat dit nie deur informele prosesse geadresseer kan word nie, maar nie ernstig genoeg dat dit formele intervensie regverdig nie. Hierdie prosesse word deur die onderwyser en die Affieraad bestuur, in samewerking met ‘n herstellende geregtigheidsleier.
      • 4.2.3.3 Formele Herstellende Konferensies.
        Gestruktureerde, formele proses wat leerders, ouers en personeel insluit. Oortreders word aanspreeklik gehou vir hul aksies, slagoffers word die geleentheid gegun om hul gevoelens te deel en ooreenkomste word aangegaan rakend wat nodig is om skade te herstel en toekomstige oortredings te voorkom. Konferensies word bestuur deur ‘n opgeleide fasiliteerder en/of die beheerliggaam of sy gemagtigde.
  3. 4.3 Dissiplinêre prosedure – Struktuur:
      • 4.3.1 Die beheerliggaam in oorleg met die Affieraad dra die oorhoofse verantwoordelikheid vir die toepas-sing van die bepalings van die gedragskode en is in skoolverband in die implementering van die dissiplinêre proses die finale gesag.
      • 4.3.2 Die beheerliggaam sal in die toepassing van dissiplinêre tug en die dissiplinêre proses bygestaan word deur die Affieraad, ‘n leerder-tribunaal, die graadvoogde, ADJUNKHOOF: DISSIPLINE en ‘n onafhan-klike dissiplinêre komitee.
      • 4.3.3 Die graadvoogde en ADJUNKHOOF: DISSIPLINE sal in die uitvoering van hulle dissiplinêre verantwoordelikhede en take bygestaan en
        gelei word deur die skoolhoof en die beheerliggaamslid belas met dissiplinêre aangeleenthede.
      • 4.3.4 ‘n Onafhanklike dissiplinêre komitee word saamgestel onderworpe aan die bepalings in sub-paragraaf 5.
      • 4.3.5 Die leerder-tribunaal sal bestaan uit die hoofseun en twee lede welke lede op ‘n roterende basis uit die geledere van die Affieraad aangewys sal word.
      • 4.3.6 Die bedrywighede en prosedures van die leerder-tribunaal sal deur die Affieraad in oorleg met die beheerliggaamlid belas met discipline
        van tyd tot tyd bepaal en vasgestel word.

    Prosedure:

    • 4.3.7 Waar ‘n leerder in klasverband die bepalings van die gedragskode oortree verwys die tersaaklike onderwyser die aangeleentheid na die graadvoog wat in oorleg met die onderwyser die aangeleent-heid finaliseer indien beide van opinie is dat die oortreding van ‘n minder ernstige aard is.
    • 4.3.8 Indien bevind word dat die leerder skuldig is aan die tersaaklike oortreding mag die graadvoog in oorleg met die onderwyser een van die volgende strawwe oplê:-
      • 4.3.8.1 Waarskuwing;
      • 4.3.8.2 Oplegging van dienstake in skoolverband; of
      • 4.3.8.3 Detensie.
    • 4.3.9 Die leerder word ten volle ingelig oor die beweerde oortreding en het die reg om vertoë ten aansien van beide die meriete van die geval of enige toepasbare straf voor te hou aan die graadvoog.
    • 4.3.10 Indien ‘n leerder van opinie is dat hy verkeerdelik skuldig bevind is of dat die straf onvanpas is mag hy ‘n vertoë rig aan die Adjunkhoof: Dissipline.
    • 4.3.11 Die Adjunkhoof: Dissipline sal na oorweging van die leerder se vertoë en alle omliggende feite ‘n beslissing maak aangaande die meriete van die geval en indien nodig, die straf wat deur die graadvoog opgelê is.
    • 4.3.12 Waar die graadvoog in oorleg met die tersaaklike onderwyser van opinie is dat die betrokke oortreding van ‘n ernstige aard is, word die aangeleentheid na die fasehoof verwys en daarna na die Adjunkhoof: Dissipline.
    • 4.3.13 Alle oortredings van die dissiplinêre kode buiten dié vermeld in paragraaf 4.2.7 hierbo word direk na die graadvoog verwys wat sodanige oortredings hanteer onder leiding van die Adjunkhoof: Dissipline en die beheerliggaamlid belas met dissipline.
    • 4.3.14 Die graadvoog mag in sy diskresie:
      • 4.3.14.1 Waar ‘n leerder volgens die graadvoog hom moontlik skuldig gemaak het aan ‘n geringe oortreding van die gedragskode die aangeleentheid verwys vir beslegting na die Affie-tribunaal.
      • 4.3.14.2 In gevalle waar ‘n dissiplinêre aangeleentheid deur die graadvoog na die leerder-tribunaal verwys word, hanteer die tribunaal die aangeleentheid in terme van tribunaalreëls wat neergelê is.
      • 4.3.14.3 Na finalisering van ‘n dissiplinêre verrigting word die tribunaal se bevindinge voorgelê aan die graadvoog vir bevestiging van die bevinding en indien van toepassing enige straf wat opgelê is.
      • 4.3.14.4 Die leerder-tribunaal is geregtig om indien ‘n leerder skuldig bevind word aan ‘n oortreding een van die volgende strawwe op te lê:
        • 4.3.14.4.1 Waarskuwing;
        • 4.3.14.4.2 Verbeuring van die leerder se reg om sy skooldas te dra vir ‘n bepaalde periode wat nie 5 (vyf) skooldae mag oorskry nie;
        • 4.3.14.4.3 Oplegging van dienstake in skoolverband; of
        • 4.3.14.4.4 Detensie.
      • 4.3.14.5 Enige leerder wat voor die tribunaal skuldig bevind is aan ‘n oortreding en ‘n straf opgelê is, sal die reg hê om indien hy van opinie is dat die skuldigbevinding of die vonnis onvanpas was, vertoë te rig aan die graadvoog wie gemelde sal oorweeg en finaliseer.
      • 4.3.14.6 Die graadvoog sal in alle gevalle waar die graadvoog van opinie is dat die oortreding nie van so ‘n ernstige aard is dat dit vir verdere hantering na die Adjunkhoof: Dissipline verwys moet word nie, die aangeleentheid onder leiding van die skoolhoof en die beheerliggaamlid belas met dissipline behoorlike ondersoek wat onder andere insluit die aanhoor van vertoë van die leerder en/of enige ander tersaaklike persoon ten aansien van beide die meriete van die geval of enige straf wat opgelê mag word en die aangeleentheid finaliseer.
      • 4.3.14.7 Die graadvoog is verder gemagtig om indien die leerder skuldig bevind word aan die tersaaklike oortreding enige van die strawwe vermeld in subparagrawe 4.1.3.1 tot 4.1.3.4 hierbo op te lê.
      • 4.3.14.8 Indien ‘n leerder van opinie is dat enige bevinding of straf wat deur die graadvoog gemaak, opgelê of bevestig is nie korrek is nie, mag hy verdere vertoë rig aan die Adjunkhoof: Dissipline.
      • 4.3.14.9 Waar die graadvoog van opinie is dat die beweerde oortreding van ‘n ernstige aard is, word die saak na die Adjunkhoof: Dissipline verwys vir afhandeling.
      • 4.3.14.10 Waar die Adjunkhoof: Dissipline van opinie is dat die oortreding nie van so ‘n ernstige aard is dat dit vir verdere hantering na die dissiplinêre komitee verwys moet word nie, sal hy die aangeleentheid onder leiding van die skoolhoof en beheerliggaamlid belas met dissipline behoorlik ondersoek wat onder andere insluit die aanhoor van vertoë van die leerder en of enige ander tersaaklike persoon ten aansien van beide die meriete van die geval of enige straf wat opgelê mag word en die aangeleentheid finaliseer.
      • 4.3.14.11 Die Adjunkhoof: Dissipline is verder gemagtig om indien die leerder skuldig bevind word aan die tersaaklike oortreding enige van die strawwe vermeld in subparagrawe 4.1.3.1 tot 4.1.3.9 op te lê.
      • 4.3.14.12 Waar die Adjunkhoof: Dissipline van opinie is dat die beweerde oortreding van so ‘n ernstige aard is dat ‘n verwysing na die dissiplinêre komitee regverdig word die aangeleentheid na die dissiplinêre komitee verwys vir afhandeling.
      • 4.3.14.13 Die Adjunkhoof: Dissipline moet alvorens die aangeleentheid verwys word na die dissiplinêre komitee, die saak behoorlik ondersoek wat onder andere insluit gesprekvoering met beide die leerder asook die leerder se ouers of voogde en ‘n aanbeveling aan die dissiplinêre komitee voorlê vir hantering van die aangeleentheid. Sodanige aanbeveling moet ook insluit ‘n aanduiding of berading ‘n gepaste opsie in die bepaalde geval sou wees.
      • 4.3.14.14 Indien die Adjunkhoof: Dissipline egter na ondersoek en gesprekke met die leerder en sy ouers en voogde in staat is om ‘n konsensus te bereik met die leerder en sy ouers of voogde oor ‘n erkenning van skuld, ‘n gepaste straf of toepaslike berading mag die Adjunkhoof:Dissipline die aangeleentheid so afhandel onderhewig aan bevestiging deur die dissiplinêre komitee.
      • 4.3.14.15 Indien ‘n leerder van opinie is dat enige bevinding of straf wat deur die Adjunkhoof: Dissipline gemaak, opgelê of bevestig is nie korrek is nie mag hy verdere vertoë rig aan die dissiplinêre komitee.
      • 4.3.14.16 Die dissiplinêre komitee ondersoek alle dissiplinêre aangeleenthede wat deur die Adjunkhoof: Dissipline na die komitee verwys word en funksioneer ook as appél en hersieningsliggaam vir enige bevindings van die Adjunkhoof: Dissipline.
      • 4.3.14.17 Waar die dissiplinêre komitee ‘n dissiplinêre aangeleentheid oorweeg kan gemelde oorweging geskied in die teenwoordigheid van die leerder en sy ouers of voogde.
      • 4.3.14.18 ‘n Leerder asook sy ouers of voogde sal tydens die ondersoek van die dissiplinêre komitee vertoë mag lewer ten aansien van beide die beweerde oortreding asook enige straf wat opgelê mag word en sal ook geregtig wees om enige toepaslike getuies te roep.
      • 4.3.14.19 Indien die dissiplinêre komitee na voltooiing van sy ondersoek ‘n leerder skuldig bevind aan enige oortreding van die gedragskode mag enige van die gepaste vonnisse en strawwe wat uiteengesit is in die gedragskode opgelê word.
      • 4.3.14.20 Waar die dissiplinêre komitee van opinie is dat uitsetting uit die skool die gepaste straf sou wees moet sodanige aanbeveling voorgelê word aan die beheerliggaam vir bekragtiging.
      • 4.3.14.21 Indien die beheerliggaam van opinie is dat die uitsetting van die leerder die enigste gepaste straf sou wees word ‘n behoorlike voorlegging aan die departementshoof gemaak met ‘n versoek dat magtiging verleen word dat die betrokke leerder uit die skool gesit word. Die leerder sal hangende terugvoering vanaf die departementshoof tydelik van bywoning van die skool geskors word.
      • 4.3.14.22 ‘n Leerder mag na skuldigbevinding en strafoplegging deur die dissiplinêre komitee vertoë ten aansien van beide rig aan die beheerliggaam wat as dié finale instansie ‘n bevinding moet maak ten aansien van beide die meriete en enige straf wat opgelê is.
      • 4.3.14.23 Enige bevinding of strafoplegging van die beheerliggaam word as finale bevinding of strafoplegging beskou met geen verdere reg op appél deur ‘n leerder nie behalwe vir sover Artikel 9 van die Skolewet Nr 84 van 1996 voorsiening maak vir verdere appél na die Departement van Onderwys.
      • 4.3.14.24 Indien ‘n leerder skuldig bevind word aan ‘n oortreding van die gedragskode word ‘n gepaste aantekening gemaak.

5. Samestelling van dissiplinêre optredes wat kan lei tot opskorting of skorsing:

  • 5.1 Slegs die skoolhoof mag dissiplinêre aksie teen ‘n leerder instel in gevalle van ernstige wangedrag.
  • 5.2 Die skoolhoof mag dissiplinêre aksie teen ‘n leerder neem in gevalle van ernstige wangedrag slegs as daar genoegsame bewys is om so ‘n aksie te regverdig, en die hoof dink dis in belang van die skool en die skoolgemeenskap om so ‘n wangedragaksie te loods.
  • 5.3 Dissiplinêre komitee vir ernstige wangedrag
    • 5.3.1 Sodra die skoolhoof ‘n leerder laat weet het dat dissiplinêre stappe teen hom geneem gaan word, moet die beheerliggaam ‘n dissiplinêre komitee saamstel en een van die lede bemagtig om as voorsitter die bewering van ernstige wangedrag te beoordeel.
    • 5.3.2 Onderworpe aan sub-paragraaf (4), moet die dissiplinêre komitee uit drie persone bestaan – wat of lede van die beheerliggaam is of persone wat verkiesbaar is tot die beheerliggaam.
    • 5.3.3 Die aanstelling van persone tot die dissiplinêre komitee is onderworpe aan die volgende veresistes:
      • 5.3.3.1 Die voorsitter van die dissiplinêre komitee moet ‘n ouer of lid van die beheerliggaam wees.
      • 5.3.3.2 Die skoolhoof of ‘n leerder van die skool mag nie lede van die dissiplinêre komitee wees nie; en
      • 5.3.3.3 Geen persoon mag aangestel word om op die dissiplinêre komitee te dien as die persoon ‘n belang by die tersaaklike saak het nie.
    • 5.3.4 ‘n Uitvoerende komiteelid van die Affieraad mag die verhoor bywoon as ‘n toeskouer.

6. Prosedure vir verhoor van ernstige wangedrag:

  • 6.1 ‘n Leerder wat aangekla word van ernstige wangedrag is geregtig op ‘n verhoor wat aangehoor sal word deur ‘n dissiplinêre komitee.
  • 6.2 ‘n Leerder wat aangekla word van ernistige wangedrag moet nie minder nie as 5 (vyf) skooldae vooraf geskrewe kennis ontvang van die verhoor na die vermeende wangedrag, behalwe –
    • 6.2.1 as die beheerliggaam, met goeie rede, bepaal dat ‘n korter kennisgewing moet geld; en
    • 6.2.2 daar geen nadeel vir die leerder met betrekking tot die korter kennisgewing is nie.
  • 6.3 Die kennisgewing beoog in sub-paragraaf (6.2) moet –
    • 6.3.1 die datum, plek en aard van die betrokke wangedrag bevat om die leerder te help om die betrokke insident te kan identifiseer en behoorlik daarop te kan reageer;
    • 6.3.2 die leerder in kennis stel van die aanklag, plek, datum en tyd van verhoor;
    • 6.3.3 die leerder in kennis stel rakende voorlopige skorsing, indien enige, die redes daarvoor en ook enige ander sake rakende die voorlopige skorsing; en
    • 6.3.4 die leerder in kennis stel van sy regte in verband hiermee.
  • 6.4 Die skoolhoof moet die kennisgewing waarvan in sub-paragraaf (6.2) melding gemaak word, aan die leerder oorhandig en sy ouers moet ‘n kopie daarvan ontvang by die adres wat die skool besit as die leerder se huisadres of ‘n ander metode van skriftelike kommunikasie soos verkies deur die ouers, welke metode per e-pos of faks kan wees
  • 6.5 Ten minste een van die leerder se ouers moet die leerder tydens die verhoor vergesel, tensy die leerder 18 (agtien) jaar of ouer is.
  • 6.6 Indien ‘n lid van die dissiplinêre komitee, die leerder, sy verteenwoordiger of ‘n ooggetuie die gebruik van ‘n vertaler vereis, mag die dissiplinêre verhoor nie voortgaan voordat ‘n vertaler wat die betrokke taal magtig is, gevind is nie – op voorwaarde dat dit nie nodig is om van ‘n formele gekwalifiseerde vertaler gebruik gemaak hoef te word nie.
  • 6.7 Indien die leerder sou versuim om voor die dissiplinêre komitee te verskyn na die nodige kennisgewing soos uiteengesit in sub-paragraaf (6.2) en sonder ‘n geldige rede om nie die verhoor by te woon nie, mag die verhoor aangaan in die afwesigheid van die leerder.
  • 6.8 Die dissiplinêre komitee moet ‘n volledige en akkurate rekord hou van alle prosedures.
  • 6.9 Die aanklaer moet die verrigtinge by die verhoor begin deur die klag teen die leerder te stel en daarna die saak teen die leerder te stel.
  • 6.10 voorsitter van die dissiplinêre komitee moet die leerder vra of hy skuldig of onskuldig pleit op die aanklag. Die leerder moet hierop reageer. Indien die leerder nie reageer nie, sal dit aanvaar word dat hy onskuldig gepleit het op die aanklag.
  • 6.11 Indien die leerder skuldig pleit op die aanklag –
    • 6.11.1 moet die voorsitter die leerder ondervra met betrekking tot die beweerde feite rakende die wangedrag soos uiteengesit deur die aanklaer.
    • 6.11.2 Indien, na ondervraging van die leerder, dit blyk dat die leerder se weergawe van die feite daadwerklik verskil van dié van die aanklaer of as die voorsitter nie tevrede is met die feit dat die leerder onteenseglik skuldig is nie, moet die voorsitter ‘n pleidooi van nie-skuldig namens die leerder opper.
    • 6.11.3 Indien die dissiplinêre komitee, of die meerderheid van sy lede, tevrede is dat die leerder skuldig is, moet die komitee die leerder skuldig
  • 6.12 Indien die leerder onskuldig pleit op die aanklag moet –
    • 6.12.1 die aanklaer getuies roep of ander bewyse onder eed met betrekking tot die aantygings teen die leerder inbring;
    • 6.12.2 die leerder of die verteenwoordiger van die leerder mag vrae stel aan getuies en enige getuienis deur die aanklaer voorgelê, ondersoek;
    • 6.12.3 na al die getuienis teen die leerder gelewer is, mag die leerder of sy verteenwoordiger getuies roep of enige ander bewyse onder eed, ter onderskraging van sy saak, voorlê;
    • 6.12.4 die aanklaer mag enige getuie of enige bewyse van die leerder ondervra / bevraagteken;
    • 6.12.5 die dissiplinêre komitee mag enige getuie ondervra of enige bewyse ondersoek;
    • 6.12.6 na al die getuienis voorgelê is, mag eers die aanklaer en dan die leerder, of sy verteenwoordiger, die dissiplinêre komitee toespreek t.o.v. die leerder se skuld of andersins;
    • 6.12.7 die dissiplinêre komitee moet hierna, indien nodig, verdaag vir nie meer as twee skooldae na ‘n spesifieke plek, datum en tyd om te besluit, na inagneming van die bewyse voorgelê, of die leerder skuldig of onskuldig is op die aanklagte; en
    • 6.12.8 op die datum en tyd gestipuleer in sub-paragraaf 6.12.7, moet die dissiplinêre komitee die leerder verwittig van die bevinding van die
      dissiplinêre komitee.
  • 6.13 As die leerder skuldig bevind word aan die aanklag, mag die aanklaer en die leerder of sy verteenwoordiger, bewyse aan die dissiplinêre komitee voorlê, relevant tot die toepaslike straf, insluitende, maar nie beperkend tot die persoonlike omstandighede van die leerder, algemene rekord van vorige oortredings, die erns en aard van die wangedrag ter sprake, en die belange van die skoolgemeenskap
  • 6.14 Onmiddellik na inagneming van enige bewyse voorgelê in terme van sub-paragraaf (6.13), moet die dissiplinêre komitee ‘n straf toedien soos uiteengesit in die kode, en die leerder, op skrif, daarvan in kennis stel.
  • 6.15 As die dissiplinêre komitee sou besluit dat die leerder van die skool geskors word, moet ‘n aanbeveling gemaak word aan diedepartementshoof en mag die leerder dan tydelik geskors word, in konsultasie met die departementshoof in afwagting op die departmentshoof se beslissing of die leerder permanent geskors moet word of nie.

7. Verdere bepalings ten opsigte van skorsing:

    • 7.1 Waar ‘n dissiplinêre komitee in terme van paragraaf 6.15 ‘n leerder skors, met die doel om finale skorsing deur die Onderwysdepartement
      te bewerkstellig, moet die dissiplinêre komitee die skoolhoof opdrag gee om ‘n volle rekord van die dissiplinêre prosedure en ‘n verslag
      van die dissiplinêre komitee oor die leerder aan die Hoof van die Departement in te dien.

[Sub-regulasie (1): amendment deur Algemene Kennisgewing 2591 van 9 Mei 2001 met effek 9 Mei 2001]

  • 7.2 Die verslag waarna in paragraaf (7.1) verwys word moet ten minste die volgende insluit –
    • 7.2.1 die volle name, geboortedatum, en graad van die leerder;
    • 7.2.2 ‘n Opsomming van die bewyse wat deur die aanklaer aan die leerder voorgehou is; en
  • 7.3 ‘n Opsomming van die bevinding van die Dissiplinêre komitee na aanleiding van die bewyse wat gelewer is, en die vonnis wat daarvolgens voorgestel word. Na oorweging van die volle rekord van die verrigtinge en die verslag genome in sub-paragraaf (7.1) en binne vyf (5) dae nadat kennisgewing van beslissing van die Dissiplinêre komitee ontvang is, moet die Hoof van die Departement –
    • 7.3.1 die leerder skors; of
    • 7.3.2 ‘n ligtere straf toedien volgens die bepalings van die kode; of
    • 7.3.3 uitstel of opskorting van die vonnis vir ‘n tydperk van nie minder nie as ses maande; of
    • 7.3.4 ‘n gepaste vonnis, volgens die oordeel van die Hoof van die Department, fel; of
    • 7.3.5 die leerder onskuldig bevind

    [Sub-regulasie (1): amendment deur Algemene Kennisgewing 2591 van 9 Mei 2001 met effek 9 Mei 2001]

  • 7.4 Die Kennisgewing waarna in sub-paragraaf (7.3) verwys word moet die reg tot appél insluit deur die Lid van die Uitvoerende Raad indien die Hoof van die Departement ‘n leerder skors.
  • 7.5 Indien die Hoof van die Departement ‘n skoolpligtige leerder skors, moet die Hoof van die Department –
    • 7.5.1 toesien dat die leerder tot ‘n ander skool of leersentrum in dieselfde provinsie toegelaat word;
    • 7.5.2 mag vereis dat die leerder berading ontvang; en
    • 7.5.3 gereelde vorderingsverslae verkry vanaf die berader waarna in paragraaf (7.5.2) verwys word.
  • 7.6 Indien die Hoof van die Departement ‘n leerder skors wat nie skoolpligtig is nie, mag die Hoof van die Departement opdrag gee dat die leerder nie hertoegelaat word in enige skool in dieselfde provinsie nie.

8. Uitsetting en Skorsing vanuit ‘n Koshuis:

  • 8.1 Koshuisleerders is te alle tye onderworpe aan die volle gedragskode van die skool asook die koshuis se interne gedragskode.
  • 8.2. Die hoof van die skool en die senior koshuisvader behou die reg voor om ‘n leerder wat die skool- en/of koshuisreëls oortree uit die koshuis te tydelik te skors of permanente uitsetting uit die koshuis af te dwing.
  • 8.3 Indien ‘n koshuisleerder uit die skool geskors of uitgeset word, word hy ook beskou as uit die koshuis uitgeset of geskors.
  • 8.4 ‘n Leerder mag uit ‘n koshuis geskors of uitgeset word, sonder om uit die skool uitgeset of geskors te word.

9. Appél teen Besluit van Hoof van die Departement om ‘n Leerder te skors:

    • 9.1 ‘n Leerder of sy ouer(s) mag appél aanteken by die Lid van die Uitvoerende Raad teen –
    • 9.1.1 Enige skuldigbevinding deur die Hoof van die Departement waar ‘n skorsing toegepas is;
    • 9.1.2 ‘n skorsing wat deur die Hoof van die Departement toegepas is; en
    • 9.1.3 ‘n bevel van die Hoof van die Departement ten opsigte van paragraaf 7.5.
    • 9.2 ‘n Leerder of sy ouer(s) wat ‘n appél wil loods teen ‘n besluit waarna verwys word in sub-paragraaf (9.1), moet binne 14 (veertien) dae na kennisgewing ten opsigte van paragraaf 7 van die besluit, ‘n kennisgewing van appél en die gronde waarop die appél berus, per hand indien by die kantoor van die Lid van die Uitvoerende Raad.

[Sub-regulasie (2): amendement deur Algemene Kennisgewing 2591 van 9 Mei 2001 met effek 9 Mei 2001]

  • 9.3 Tensy die Lid van die Uitvoerende Raad geldige rede vind om anders te besluit, sal die appél nie die vonnis wat deur die Hoof van die Departement toegedien is, verander nie.
  • 9.4 Binne 5 (vyf) dae na ontvangs van die kennisgewing tot appél, moet die Lid van die Uitvoerende Raad die Hoof van die Departement en die beheerliggaam in kennis stel van die appél, en ‘n afskrif daarvan aan hulle voorsien.
  • 9.5 Die Hoof van die Departement en die beheerliggaam moet binne 5 (vyf) dae na ontvangs van die kennisgewing tot appél vanaf die Lid van die Uitvoerende Raad, skriftelik reageer en redes aanvoer waarom die appél ter syde gestel moet word.
  • 9.6 Binne 5 (vyf) dae na ontvangs van die skriftelike indiening waarna in sub-paragraaf (9.5) verwys word, moet die Lid van die Uitvoerende Raad –
    • 9.6.1 die appél ter syde stel;
    • 9.6.2 ‘n ligter straf oplê, soos volgens die bepalings van die kode toegelaat;
    • 9.6.3 enige ander sanksie oplê, volgens die goeie oordeel van die Lid van die Uitvoerende Raad; of
    • 9.6.4 die leerder onskuldig bevind; die leerder en sy ouer(s), sy verteenwoordiger en die Hoof van die Departement van sy beslissing in kennis stel.
  • 9.7 Die beslissing van die Lid van die Uitvoerende Raad met betrekking tot die appél is finaal.

SKEDULE 1
(ERNSTIGE WANGEDRAG WAT TOT ‘N SKORSING MAG LEI)

‘n Leerder sal homself skuldig maak aan ernstige wangedrag as hy, doelbewus en sonder goeie rede –

  1. (a) onderrig in ‘n klas ernstig bedreig, ontwrig of frustreer;
  2. (b) deel het in ‘n sameswering om die behoorlike funksionering van die skool deur
    massa-aksie te ontwrig;
  3. (c) enige leerder of ander persoon boelie, afknou, verbaal of op enige ander manier teister,
    se waardigheid aantas, insluitende rassistiese aanmerkings;
  4. (d) stof versprei, of in besit is daarvan, wat enige iemand in staat sal stel om ‘n onregmatige
    voordeel in ‘n toets of eksamen te verkry;
  5. (e) kul in ‘n toets of eksamen of enige ander vorm van assessering soos portefeulje opdragte;
  6. (f) enige vorm van plagiaat pleeg;
  7. (g) enige persoon seksueel teister;
  8. (h) in besit is van pornografiese materiaal, of die verspreiding daarvan;
  9. (i) onder die invloed van alkohol is, of in besit daarvan;
  10. (j) ‘n goeie leerkultuur versteur;
  11. (k) ander leerders ‘n goeie leerkultuur ontneem; en
  12. (l) afwesig is van detensie sonder vooraf skriftelike verlof van die skool.

SKEDULE 2
(ERNSTIGE WANGEDRAG WAT TOT UITSETTING MAG LEI)

‘n Leerder sal skuldig wees aan ernstige wangedrag as hy –

  • (a) homself skuldig maak of hy skuldig bevind word aan wangedrag soos vermeld in Skedule 1,
    na ‘n vorige skuldigmaking of skuldig bevinding aan dieselfde of soortgelyke wangedrag op twee vorige geleenthede;
  • (b) nie die bepalings van ‘n skorsing as regstellende maatreël nakom nie; of
  • (c) doelbewus of sonder grondige rede –
    • i. enige dokument of handtekening vervals wat moontlik die skool kan benadeel;
    • ii. handel dryf in enige toets- of eksamenmateriaal of toets- of eksamenvraestel;
    • iii. enige persoon omkoop of probeer omkoop in verband met enige toets of eksamen, met die doel om vir homself ‘n onregverdige voordeel te bekom;
    • iv. homself skuldig maak aan bedrog;
    • v. diefstal pleeg, of oneerlik optree tot nadeel van ‘n ander persoon;
    • vi. in besit is, of handel dryf met enige onwettige middel of skadelike middel;
    • vii. in besit is, gebruik of verspreiding van enige dwelmmiddel of ongemagtigde middel, of sigbare bewyse van sulke besit, gebruik of verspreiding;
    • viii. in besit is van enige gevaarlike wapen;
    • ix. die aanranding of dreigement om ‘n ander persoon aan te rand;
    • x. enige persoon as gyselaar aan te hou;
    • xi. enige persoon vermoor;
    • xii. enige persoon verkrag, of enige seksuele daad pleeg wat ‘n oortreding volgens wet is.
    • xiii. die kwaadwillige beskadiging van eiendom.
    • xiv. voortdurende versteuring van ‘n goeie leerkultuur.
    • xv. voortdurende ontneming van ander leerders van ‘n goeie leerkultuur.
    • xvi. enige ander ernstige, hetsy uiteengesit in skedule 1 of nie, of voortgesette wangedrag pleeg.

ALGEMEEN:

Affie-leerders onderneem om enige sellulêre telefoon (“selfoon”) en/of elektroniese media ordelik, positief en gestruktureerd te gebruik sonder om enige een van die skool se reëls te verbreek (waarmee die leerder homself vertroud mee verklaar), aanstoot te gee aan ander leerders, onderwyspersoneel of enige derde party of ‘n selfoon of elektroniese media te gebruik vir kuberteistering, -intimidasie, of -boeliery.

Enige leerder van die skool kan verbied word om sy selfoon of elektroniese toestel na die skool te bring en indien so ‘n leerder of leerders nie hieraan gehoor gee nie, kan dit tot dissiplinêre stappe aanleiding gee.

Indien ‘n selfoon of enige elektroniese toestel gebruik word gedurende skoolure of tydens enige skoolaktiwiteit of as stoorplek en/of vir verspreiding van enige onwelvoeglike of negatiewe inligting of materiaal, kan die skool dissiplinêre optrede teen die leerder instel, welke kan insluit dat die leerder ontneem word van sy selfoon of elektroniese toestel vir berging daarvan (op die leerder se risiko) totdat die boete gehef vir die teruglewering van die selfoon betaal is of enige ander sanksie deur die skool bepaal, deur die leerder uitgevoer is.

Vir die doel van hierdie beleid sal kuberteistering, -intimidasie en -boeliery insluit maar nie beperk wees tot enige doelbewuste geskrewe boodskap of visuele kommunikasie wat op grond van ras, kleur, agtergrond, nasionaliteit, geslag, seksuele- of geloofsoortuiging, gestremdheid of enige ander kenmerkende eienskap wat ten doel het om enige leerder of persoon se menswaardigheid aan te tas en sal dit ook insluit enige gedrag wat aanleiding gee tot kuberteistering, -intimidasie of -boeliery soos die skep en/of verspreiding of sameswering om boodskappe/beelde met behulp van elektroniese media soos e-posse, selfoon teksboodskappe, video’s, boodskappe op blogs of enige sosiale netwerk soos gerugte, grappe, afbrekende kommentaar, tekeninge of prente, naakte fotobeelde, elektronies-gemanipuleerde beelde of enige boodskap en beeld met seksuele suggestie van ‘n persoon.

Nieteenstaande die feit dat die skool nie beheer het oor die gebruik van ‘n leerder se privaat selfoon nie of geen beheer het oor ‘n leerder se gebruik van sy selfoon of enige elektroniese toestel om internettoegang te verkry nie, behou die skool die reg voor om op te tree teen enige leerder by die wangebruik van so ‘n selfoon of elektroniese toestel asof dit binne skoolverband gebruik is wanneer enige onwelvoeglike handeling of gebruik van selfoon of elektroniese toestel in die skool se uitsluitlike diskresie enige Affie- leerder, onderwyser of enige derde party se welsyn of eer bedreig word in ‘n poging om goeie orde by die skool te handhaaf, die goeie naam van die skool hoog te hou of om net eenvoudig goeie dissipline en integriteit te handhaaf.

Indien ‘n leerder hom skuldig maak aan enige vorm van kuberteistering, -intimidasie of -boeliery van ander leerders, onderwysers of derde partye, met behulp van ‘n selfoon of ‘n elektroniese toestel, kan dissiplinêre stappe teen die leerder geneem word en afhangend van die erns van die oortreding (in die uitsluitlike diskresie van die skool onder leiding van enige een of meerdere van die betrokke graadvoog, fasehoof, adjunkhoof, hoof, beheerliggaamlid en/of adviseur) mag die toepaslike straf opgelê word. Die straf kan insluit: toedeel van detensie(s), onderhoude met die leerder en/of sy ouer(s), dissiplinêre stappe met gevolglike skorsing en/of uitsetting en/of remediërende stappe wat kan insluit ‘n aanbeveling dat die leerder die skoolsielkundige en/of ander beraders besoek.

GEBRUIKSTYE:

Leerders mag toestelle slegs voor skool, tydens pouse en na skool gebruik. Wanneer die klok die begin van die skooldag of die einde van pouse aankondig, moet selfone ens. afgeskakel en gebêre word.

PROSEDURE BY OORTREDING:

Indien ‘n leerder die reël ten opsigte van selfone ens. oortree, word die apparaat aan die toepaslike fasehoof oor-handig wat dit in die kluis sal stoor totdat ‘n boete van R50 betaal is. Die leerder moet die kwitansie by die fasehoof inhandig en skriftelike ontvangs van die apparaat erken. Die fasehoof hou die betalingsbewys op rekord. In geval van ‘n tweede oortreding word ‘n R100-boete gehef, en die apparaat word vir twee TWEE skooldae gestoor. Dieselfde prosedure wat hierbo genoem is word gevolg indien die leerder sy apparaat wil terughê.

Indien ‘n seun se selfoon afgeneem word tydens skoolure, moet hy die boete by die finansiële kantoor betaal. Hy kan sy selfoon eers die volgende akademiese dag terugkry wanneer hy sy betalingsbewys toon.

By ‘n tweede oortreding sal die foon eers afgehaal kan word na twee skooldae.

In geval van ‘n derde oortreding word ‘n R100-boete gehef en die apparaat word vir VYF skooldae gestoor en kan /word die saak via die hoof na die die dissiplinêre komitee van die beheerliggaam verwys.

1. Detensie

  • 1.1. Detensieklasse word gehou vir leerders wat akademies en dissiplinêr oortree. Leerders wat die leerkultuur op enige wyse versteur, word na so ‘n klas verwys.
  • 1.2. Detensie word deur graadvoogde opgelê op grond van inligting wat deur die onderwyserkorps aan hulle verskaf word.
  • 1.3. Leerders word gewoonlik voor of op Woensdae van die detensie in kennis gestel, wat dan die eerskomende Vrydag van 14:00 tot 17:00 plaasvind, tensy anders deur die skool gekommunikeer.
  • 1.4. Ouers moet hulle vervoerreëlings dus so aanpas dat ‘n leerder die volle duur van die detensieklas kan sit.
  • 1.5. Ouers moet nie afsprake vir lisensies, doktersbesoeke, ens. in dieselfde tyd as detensieklasse maak nie. ’n Leerling word ook nie toegelaat om gedurende detensietyd aan kulturele aktiwiteite of aan sport deel te neem nie. ‘n Leerder is geregtig om EEN maal per kwartaal ‘n skriftelike versoek aan die graadvoog te rig vir uitstel van ‘n bepaalde detensieklas. Só ‘n versoek moet ‘n dag voor die detensieklas by die graadvoog ingehandig word. Slegs versoeke met meriete sal gunstig oorweeg word. Indien ‘n leerder reeds uitstel ontvang het en ‘n detensieklas oorvleuel of bots met enige buitemuurse skoolaktiwiteit, kry die detensie-klas voorkeur.
  • 1.6. Indien ’n leerling sonder vooraf skriftelike toestemming afwesig is, word slegs ’n mediese sertifikaat as verskoning aanvaar en word die detensie vir die volgende Vrydag opgelê. Indien ’n mediese sertifikaat nie aangebied kan word nie, word daar aanvaar dat die detensieklas ontduik is.
  • 1.7. Leerders wat nie by die detensie opdaag nie, se oortreding word in ‘n baie ernstige lig beskou. Leerders ontvang ‘n ernstige waarskuwing en word twee ekstra detensies opgelê. Leerders se deelname aan alle buitemuurse aktiwiteite word ook opgeskort totdat die eerste detensieklas bygewoon is.
  • 1.8. Leerders moet om 13:50 by die detensieklas aanmeld.
  • 1.9. Leerders moet netjies in skooldrag geklee wees en slegs hulle pen en beplanningsgids in die lokaal inneem.
  • 1.10. In die detensieklas moet die helfte van die gedragskode teen 15:30 uitgeskryf wees.
  • 1.11. Na ‘n pouse van 10 minute word daar van elke leerder verwag om 15:40 in die klas terug te wees en die oorskryf van die erekode te voltooi, waarna hy om 17:00 die klas mag verlaat.
  • 1.12. Geen drink- en eetgoed of selfone mag in die lokaal ingeneem word nie. Leerders mag ook nie tydens hierdie sessies praat nie.
  • 1.13. Leerders wat enige van die reëls van die detensieklas oortree, sal die detensie moet herhaal.
  • 1.14. Indien ‘n leerder meer as vier detensies vir dieselfde oortreding ontvang, sal die ouers geskakel word vir ‘n gesprek met die graadvoog en betrokke onderwysers. Indien ‘n leerder hom hierna weer skuldig maak aan gedrag wat die leerkultuur in die skool versteur, sal hy na die dissiplinêre komitee van die beheerliggaam verwys word vir verdere optrede.
  • 1.15. Leerders wat aan die einde van die eerste twee kwartale en laaste twee kwartale nog uitstaande detensies het, se tuisstudie sal opgeskortword en daar sal van hom verwag word om by die skool te studeer.

2. Uittekenprosedure

  • 2.1 Die versoek moet skriftelik en per hand ingedien word. Koshuisseuns wie se ouers dit nie kan doen nie, moet ‘n e-pos aan die seun se gangvoog die dag voor die tyd rig. Die betrokke seun moet die brief by sy gangvoog afhaal en by die navrae kantoor inhandig.
  • 2.2. Die ouer moet die dag waarop hy/sy die leerder wil uitteken persoonlik by die kantoor aanmeld, waarop hy/sy na die betrokke personeellid en die klas waarin die seun hom bevind, verwys sal word.
  • 2.3 Die uittekenbrief wat by die kantoor verkry is, moet by die sekuriteitswag ingehandig word alvorens die seun die terrein mag verlaat.
  • 2.4. Geen leerder sal toegelaat word om die klaskamer te verlaat indien hy nie deur die ouer persoonlik afgehaal word nie. ’n Ouer kan dus onder geen omstandighede ‘n SMS aan die leerder stuur met die opdrag om hom/haar by die kantoor te ontmoet nie.
  • 2.5. Alle leerders moet deur die ouer of voog uitgeteken word. Geen leerling sal toegelaat word om saam met ’n ander persoon die terrein te verlaat nie, mits die ouer/voog nie ‘n dag voor die tyd die skool skriftelik daartoe gemagtig het nie.
  • 2.5.1 Indien ouers in gebreke bly om die dag voor die tyd skriftelik toestemming te vra, sal die volgende reëlings geld:
    • a. Die ouer moet eers skriftelik toestemming vra en die rede vir uitteken verstrek.
    • b. Die toestemmingsbrief moet deur die adjunkhoof aan diens geteken word.
    • c. Daarna word die getekende toestemmingsbrief na die kantoor (me R. van der Westhuizen) geneem.
    • d. Die leerder ontvang ‘n groen briefie, vul alle gegewens volledig in en kry die handtekening van elke betrokke onderwyser wie se klas nie bygewoon gaan word nie.
  • 2.5.2 Die leerder handig die groen briefie by die kantoor in, waarna ‘n uittekenbrief aan die seun gegee sal word, mits:
    • i. Die adjunkhoof sy versoek toegestaan het;
    • ii. Al sy onderwysers kennis geneem het dat hy nie hul klasse gaan bywoon nie;
    • iii. Sy ouer teenwoordig is om hom uit te teken.
  • 2.6. ‘n Leerder moet tot 10:00 by die skool wees om aanwesig gemerk te word.
  • 2.7. Geen uitsonderings om vroeër uit te teken, sal voor vakansiedae, langnaweke of vakansies gemaak word nie.
  • 2.8. Geen leerder sal voor 10:00 uitgeteken word nie. Indien ’n afspraak voor 10:00 nagekom moet word, moet die leerder eers na afloop van die afspraak skool toe kom. Wanneer hy arriveer, moet hy in die mediasentrum by me. Koch aanmeld, sodat hy aanwesig gemerk kan word.
  • 2.9. Indien koshuisleerders ongesteld is en ‘n dokter moet besoek, moet hulle by mnr. Joynt (Frank le Roux) of mnr Wessels (Pannevis) aanmeld. Hulle sal dan die situasie evalueer, doktersafsprake maak en die seuns uitteken, indien nodig. Leerders wat versoek om in die koshuis se siekekamer opgeneem te word, moet by hierdie persone die nodige toestemming kry.

3. Afwesighede

  • 3.1. Alle leerders word tydens die samekoms in die vierkant en registerperiode voor 08:00 gekontroleer.
  • 3.2. Indien ‘n leerder nie in die klas is nie, sal sy ouers deur middel van ’n e-pos in kennis gestel word. Die ouer sal terselfdetyd versoek word om sy afwesigheid skriftelik te motiveer. Hierdie brief moet saam met die leerder aan sy voogonderwyser gestuur word op die eerste dag waarop hy weer by die skool terug is.
  • 3.3. Indien ’n leerder tydens ’n kontrolesessie ‘n afspraak elders moet nakom, moet hy eers by die voogonderwyser aanmeld en toestemming kry om die klas te verlaat.
  • 3.4 Indien ‘n leerder laat is vir skool moet die leerling by die mediasentrum (me H Koch) aanmeld om seker te maak dat sy naam nie op die afwesigheidslyste verskyn nie. Indien ‘n leerder op ‘n toetsdag laat is, meld hy direk by die voogklas aan.
  • 3.5. ‘n Leerder moet tot 10:00 by die skool wees om aanwesig gemerk te word.

4. Toets- en Eksamenregulasies

  • 4.1 Toetse:
    • a) Indien ’n leerder afwesig is tydens ’n kwartaaltoets, moet ’n mediese sertifikaat by die betrokke vakonderwyser ingedien word. Die vakonderwyser sal reël vir ’n sieketoets.
    • b) Indien ’n mediese sertifikaat nie aangebied kan word nie, of hy nie vir die toets opdaag nie, word nul toegeken.
    • c) Sieketoetse word elke tweede week in detensieklasse geskryf.
  • 4.2 Eksamens:
    • a) Indien ’n leerder afwesig is tydens ’n eksamen, moet ’n mediese sertifikaat by die betrokke graadvoog ingedien word. Daarna sal die vakonderwyser vir ’n datum vir eksaminering reël.
    • b) Indien ’n mediese sertifikaat nie aangebied kan word nie, of hy nie vir eksaminering opdaag nie, word nul toegeken.
    • c) Spesiale versoeke moet deur die ouer met die hoof bespreek word en sal slegs in uitsonderlike gevalle toegestaan word.

Die skool gee vir alle aktiwiteite binne en buite skoolverband waarin ‘n leerder presteer erkenning d.m.v. medaljepunte.

Hoogstens 3 medaljepunte kan in ‘n enkele aktiwiteit per jaar verdien word. Medaljepunte kan o.a. toegeken word vir ligawenners, provinsiale of nasionale deelname in spanverband of provinsiale/nasionale wenners of naaswenners indien dit ‘n individuele prestasie is.

Medaljepunte word toegeken vir:

  • Akademie
  • Sport
  • Kultuur
  • Leierskap
  • 100%-skoolbesoek

Daar word deurlopend (graad 8 tot 12) rekord van prestasies gehou. Indien ‘n leerder 20 punte behaal verdien hy ‘n bronsmedalje. Na 35 punte kry hy ‘n silwermedalje en na 55 ‘n gouemedalje.

Medaljes word tydens die Oktober-prysuitdelingsfunksie aan die leerders gegee. By hierdie geleentheid ontvang presteerders ook trofeë en ander toekennings.

Erekleure (balkies) word slegs aan leerders toegeken vir aktiwiteite wat deur die skool aangebied word.

Akademiese erekleure word tydens die Februarie-prysuitdeling aan leerders oorhandig wat in die vorige jaar ‘n gemiddeld van 80% of hoër behaal het. Erkenning word ook by hierdie funksie vir die beste presteerders in die onderskeie vakke gegee. In die jaarblad word daar elke jaar ‘n lys van hierdie toekennings en eervolle vermeldings geplaas.

TERUG NA BO