Geskiedenis
Krieket is vir die eerste keer op ’n georganiseerde basis in 1952 by die Afrikaanse Hoër Seunskool gespeel. In 1953 lewer Affies die eerste Afrikaanssprekende krieketspeler vir die Noord-Oos Transvaalse Nuffieldspan op.
Geleentheid tot deelname en ontwikkeling
Meer as 220 seuns word jaarliks in Affies se 20 krieketspanne opgeneem – o/14A-G, o/15A-E en 1 tot 8. Krieket word in die eerste, die derde en die vierde kwartaal aangebied en ongeveer 350 wedstryde word gespeel. Daar word hoofsaaklik in die Pretoria- en Johannesburgligas meegeding, maar talle wedstryde word ook elders in die land gespeel. Intensiewe winterprogramme word gedurende die afseisoen vir alle ouderdomsgroepe aangebied. Programme word vir spanne uitgewerk wat alle aspekte van krieket behels – kolfwerk, boulwerk, veldwerk, psigologies en fisiologies. Affies begin in 2020 ‘n krieketakademie vir laerskoolseuns en alle Affie-seuns wat belangstel.
Afrigters
Affies het tans 18 CSA geakrediteerde afrigters – 7 met CSA vlak 1-, 8 met CSA vlak 2- en 3 met CSA vlak 3-kwalifikasies.
Mnr Billy Brown dien as beskermheer van Affie krieket. Dit behels talentidentifisering by alle spanne en die handhawing van die Affie-krieketkultuur
Vlak 3 Afrigters :
Mnr. Deon Botes – SA-Skole en SA o/19-keurder 2012 – tans, Northerns o/17 en o/18-sameroeper 2013 – tans, SA skole-afrigter 2014, SA Colts afrigter 2012/13, 2015 – tans en Northerns o/17 afrigter 2000 – 2004.
Mnr. Pieter Cronje – Voorsitter van Northerns se Hoёrskolekomitee, Northerns o/13 afrigter 1998 – 2003, Northerns o/15 afrigter 2004 – 2007, Northerns o/17 afrigter 2012, Northerns o/19 afrigter 2013 – 2016 en Northerns o/15 sameroeper 2017 – tans.
Mnr. Leon Jonker – Northerns o/15 afrigter 2007 – 2010, 2013/14 Northerns o/15 Sameroeper 2012 – 2016
Fasiliteite
Affies beskik oor 15 nette waarvan 6 met spreiligte toegerus is. Die A-spanne gebruik Harlequins krieketklub se turfnette.
Daar is twee krieketvelde op die skoolterrein met ‘n klubhuis wat altwee velde diens. Die A-veld het 6 kolfblaaie en die B- veld het 2 kolfblaaie.
Affies het ook gebruiksreg van Pretoria Rugbyklub se twee krieketvelde. Die A-veld het 3 kolfblaaie en die B-veld het twee kolfblaaie.
Opponente
Buite Pretoria speel Affies jaarliks teen skole soos Grey High School (PE), SACS, Rondebosch, Durban High School, St John’s, King Edward VII School, St. Stithians, St Benedict’s, Paul Roos, Wynberg, Paarl Boys High, Maritzburg College, Hilton, Westville, Glenwood, Grey Kollege, Kearsney College, St Charles, Bishops en vele meer.
Toernooie en toere
Die eerste span speel in Januarie, voor die skole heropen, om die beurt in die Grey High-feestoernooi in Port Elizabeth en die Grey Kollege-feestoernooi in Bloemfontein. Aan die einde van die eerste kwartaal toer die eerste, tweede, o/14A- en o/15A-spanne na Kaapstad om met Paul Roos Gimnasium, Wynberg Boys’ en Rondebosch Boys’ kragte te meet. In September speel die eerste span in die Michaelmas Feesweek (die oudste krieketweek in die land) by Maritzburg College, die o/15A’s in die Grey High Feesweek en die o/14A’s in die Charl van Rooyen Feesweek wat elke jaar deur een van die deelnemende skole aangebied word. Toere vir B – spanne word jaarliks gereёl.
Affies lewer top krieketspelers op
Die skool het reeds die volgende internasionale krieketspelers opgelewer.
Proteas: AB de Villiers, Francois (Faf) du Plessis, Jacques Rudolph, Heino Kuhn en Rassie van der Dussen.
Nieu-Seeland: Kruger van Wyk en Neil Wagner.
AB en Faf behaal die uitsonderlike prestasie om aangewys te word as kapteine van Suid – Afrika in al drie die formate T20, 50 beurt-eendagwedstryde en toetskrieket.
Prestasierekord
Affies is tans een van die beste krieketskole in die land. Affies se spanne is gereeld onder die top 10 op die ranglys vir hoërskolekrieket.
Die afgelope 15 jaar het die skool tien spelers vir die SA Skolespan en die SA o/19-span opgelewer. Talle oud-Affies speel tans “Franchise” krieket, senior provinsiale krieket, universiteit- en klubkrieket.
Navrae
Deon Botes: deon.botes@affies.co.za of 012 344 3805 (skoolure)
Pieter Cronjé: pieter.cronje@affies.co.za of 012 344 3805 (skoolure)